Listen

Description

Liefde is nie maar net iets ván die Here nie, met ander woorde, een of ander goeie kwaliteit of eienskap nie. Nee, in sy wese ís God liefde (vgl 1 Joh 4:8 : “Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde”).

God se liefde kom daarin tot openbaring dat Hy sy Seun na die wêreld toe gestuur het om namens ons te sterf (1 Joh 4:9 : “Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê”).

Ons verlossing van die ewige dood is dus ’n demonstrasie van God se liefde ... dit is liefde in aksie (vgl Rom 5:8: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was”).

En omdat God sy alles vir ons gee, gee ons ook ons alles vir God: Galasiërs 2:20: en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.