Dit is vir my altyd so “mind boggeling” dat ons die lewe vir onsself soveel moeiliker maak, as wat dit hoef te wees. Ons sleep soveel onnodige gemors en bagasie met ons saam.
Ons sleep gister en eergister saam, al kan ons niks daaraan verander nie.
Die verlede se bagasie raak so swaar dat ons nie meer plek het, of krag het vir vandag se las nie. En wanneer ons opkyk dan sien ons net more se berge van swaarkry wat voorlê.
En dit is nie net meer ons as grootmense wat gebuk gaan onder hierdie berge op ons skouers nie. Al meer en meer kinders sien nie meer kans vir die stres en verantwoordelikhede van die lewe nie. Daar word, in hullebelewenis, net te veel van hulle verwag.
Alles is 'n kompetisie. Ek moet net beter wees as almal rondom my. En nou weet ons mos hoe dit werk: Daar is altyd iemand mooier, vinniger, slimmer en sterker. Ek is nooit goed genoeg nie en ek sal nooit goed genoeg wees nie.
En as ek jou nie kan wen nie, dan boelie ek jou – want: wen moet en wen, dit word van my verwag. Boelie onder kinders word 'n al groter en groter probleem.
En so raak die druk op ons en ons kinders net groter en groter en groter. Soveel so dat selfs ons kinders begin knak.