1 Konings 17:12-15: 12Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net ’n handvol meel in die kruik en ’n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar ’n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.” 13Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my ’n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg. 15Sy gaan maak toe soos Elia gevra het.
God werk ook daar waar mense min tot niks oor het nie en eintlik al magteloos boedel oorgee. Die weduwee het haar reggemaak om te sterf en om die dood van haar kind te aanskou.
Maar binne in hierdie doodse situasie bring God lewe. God openbaar Homself in weerlose momente.
Geen situasie is vir God te doods, te droog, te uitgeteer om nie nuwe lewe daaruit voort te bring nie. Jesus se leë graf getuig hiervan. Die dood is oorwin.