Listen

Description

Soos wat ek die storie nagevors het oor wat presies aangaan in Mosambiek, het ek eerstens vir myself ‘n groot skyf “humble pie” ingeskep. Ons Suid Afrikaners is so geneigd om te kla oor slaggate, krag onderbrekings en om ‘n masker te dra. Min besef ons tot en met ‘n insident soos die Mosambiek opstandelinge op die Palma dorpie, hoe bevoorregd is ons werklik. Dalk was Adrian Nel die George Floyd wat ons almal se aandag moes gefokus het op wat werklik met ons buurstaat aangaan. Dit is ‘n Pandora Boks, dit is ‘n blikkie wurms wat oopgemaak is met ‘n elektriese blik oopmaker – want ons is sulke spoiled brats en ons besef dit nie eers nie. Laat ek verduidelik....

Die oorlog het nie op 24 Maart 2021 begin nie. Die oorlog gaan alreeds vir 3jaar en 6maande aan. Eers nou sien ons dit op die voorblad van die Rapport want een van ons het gesnewel in die oorlog. Ons kan dankbaar wees vir vrye media, vir joernaliste. Die media is alreeds vir ‘n geruime tyd verban in die areas in Mosambiek, daar het selfs al ‘n joernalis - Amade Abubacar – marteling ondergaan onder die Mosambiekse regering, was vir oor die 3maande onregmatig in hegtenis geneem. Dit laat my wonder – is hierdie opstandelinge dalk iets wat hulle toesmeer? Die hindernisse wat gestel word vir media laat my dink aan dit wat in Egipte ook aangaan. Dankbaar is ek nou vir Rapport, NetNuus en Carte Blanche sodat ons joernaliste darem vrylik kan beweeg.

My eerste nota wat ek gemaak het was: Is een lewe meer belangrik as ‘n ander lewe? Ek voel alweer so effens soos white privelage terwyl ek die storie navors. Nog ‘n persoon wat die wêreld aan die gons het, en my innige simpatie gaan uit na beide families is Philip Mawer. ‘n Britse burger wat ook vermoor is deur die opstandelinge. So dit klink woes erg – maar hier is waar die “white privelage” inkom – daar word beweer en geskat dat daar alreeds – ongeveer 3,500 mense, meestal Mosambiekers vermoor is deur hierdie groep, die oorlog duur alreeds voort vir 3,5 jaar. Wikipedia het ‘n hele tydlyn van elke ander dorpie wat ingeval is, dis publieke nuus, tog vermoed ek meeste is soos ek wat nie eers bewus was daar is ‘n oorlog aan die gang in hierdie buurt staat nie. Inteendeel ek het nog April 2019 heeltemal te lekker R&R’s gedrink op die sonnige strande van Ponta, totaal en al onbewus dat daar word mense onthoof in dieselfde land met ‘n landsvlag met ‘n AK-47 wat daarop wapper. So my eie persoonlike happy place het binne ‘n week vir my verander in ‘n plek van rou.