Hag 1:6 julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ‘n stukkende beurs te steek.
6Julle het baie saad op die landerye gesaai, maar die oes wat julle ingebring het, was maar klein. Julle het wel kos om te eet, maar dit laat julle nie juis versadig voel nie. Julle het wyn om te drink, maar nie genoeg om julle tevrede te stel nie. Julle het klere om aan te trek, maar dit is nie genoeg om julle warm te maak nie. Die geld wat julle vir julle daaglikse werk kry, verdwyn ook so vinnig asof daar ’n gat in julle beursie is.”
Versus oes waar jy nie gesaai het nie, in huise bly wat jy nie gebou het nie – Jos 24:13
Hag 1:9 Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? spreek die HERE van die leërskare. Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop.
9Julle het ’n groot oes verwag, maar dit het nie veel opgelewer nie. Die bietjie wat julle ingesamel het, het Ek laat verdwyn. Hoekom, dink julle, gebeur dit? vra Ek die Here wat mag het wat met niks en niemand vergelyk kan word nie. Dit is omdat my tempel nog verwoes lê terwyl julle almal besig is om aan julle eie huise te werk.
Hag 2:16 in dié tyd het iemand gekom by ‘n koringmied van twintig maat, en daar was maar tien; hy het gekom by die parskuip om vyftig emmers te skep, en daar was maar twintig.
Van die verwagte koringoes is net die helfte ingesamel. Dit het ook nie beter gegaan met die wynoes nie. Minder as die helfte van die verwagte hoeveelheid wyn is gekry.
Hag 2:17 Ek het julle swaar getref met brandkoring en heuningdou en hael—al die werk van julle hande—nogtans het niemand van julle hom tot My gewend nie, spreek die HERE.
Maar al was dit ook so dat siektes en hael julle oeste geslaan het, het julle julle nogtans nie aan die Here gesteur nie.
Luk 23:28 Maar Jesus het Hom omgedraai en vir hulle gesê: Dogters van Jerusalem, moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders;
Luk 23:29 want daar kom dae waarin hulle sal sê: Gelukkig is die onvrugbares en die moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie.
Luk 23:30 Dan sal hulle vir die berge begin sê: Val op ons! en vir die heuwels: Bedek ons!
Hulle sal dan die berge smeek: ‘Steek ons weg! Gee vir ons ’n plek waar ons veilig is teen ons vyande!’ En vir die heuwels: ‘Maak ons toe sodat hulle ons nie kan raaksien nie!’