Johannes 1:11 Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.
Het jy al ooit in die geselskap van jou eie mense – jou vriende, familie en geliefdes – gevoel dat jy op een of ander manier anders is; op een of ander manier nie in die binnekring hoort nie; op een of ander manier net nie dieselfde is as al die ander nie? En dis 'n eensame plek om op te wees, nè?
Ek dink ons het almal al so gevoel. Dit maak nie saak wat enigiemand sê of doen nie, hoeveel hulle jou dalk aanmoedig nie; jy voel steeds verwerp. En dit bedreig jou gevoel van selfwaarde. Vir sommige is dit 'n chroniese gevoel wat hulle dag na dag beleef. Ek weet goed hoe dit voel, want dit is hoe ek vir ongeveer die eerste veertig jaar van my lewe gevoel het.
Verwerping. Dis wat dit is. Of dit nou ‘n realiteit, of net verbeelding is, dit maak nie saak nie. Dit maak seer. Vroeër hierdie week het ons, op pad na Kersfees, na hierdie gedeelte gekyk:
Lukas 2:7 Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.
As jy daaroor nadink, is Jesus simbolies en in werklikheid, as verworpene gebore. Alhoewel Hy die langverwagte Messias was, het die wêreld wat Hy binnegegaan het, Hom nie herken, erken of verwelkom nie.
Johannes 1:11 Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.
Jesus het vooraf al hierdie dinge geweet, maar Hy het nogtans hierdie wêreld vir jou binnegekom; om in jou plek van eensaamheid, in jou plek van verwerping by jou te wees. Hy verstaan jou gevoelens heeltemal! Dis waaroor Kersfees gaan. God word een van ons ... vir jou.
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.