Het die onstuimige gebeure van hierdie wêreld jou al ooit laat wonder of daar enigsins ‘n toekoms vir jou of jou kinders en kleinkinders is?
Gelukkig het God dit goed gedink dat ons nie in het om in die donker rond te tas nie. In een van die merkwaardigste profesieë in die Bybel vertel God ons van die totstandkoming en val van magtige wêreldryke. Hierdie profesie is reeds sowat 2500 jaar gelede gedurende die heerskappy van die Babiloniese Ryk gegee.
God vertel ons hoe die uitspattige koninkryk van Babilon deur Medo-Persië oorval sou word. Die Griekse koninkryk sou volg, en dan die magtige Romeinse Ryk. God vertel toe aan Daniël hoe die magtige Romeinse Ryk sal verkrummel. Die geskiedenis bevestig hierdie besonderhede! Maar daar is nog een wat op die toneel moet verskyn, en ons leef in die tyd nét voor die vervulling daarvan. Voordat God Sy ewige Koninkryk op aarde vestig, vertel die Bybel vir ons van ‘n tydelike, globale konfederasie van volke wat as een politieke en godsdienstige eenheid sal verenig. As verenigde mag, sal die satan die volke gebruik om God se getroue volgelinge te vervolg (Openbaring 17).
Maar God sal dit nie laat voortduur nie! Die Bybel vertel ons dat God Sy volk sal verlos en die onderdrukkende koninkryke met Sy eie sal vervang. Die Bybel was nog altyd reg! Tot in die fynste besonderheid! Die vraag is – sal jy kies om aan God se kant te staan?