Listen

Description

Dit was daar op die Olyfberg waar Jesus aan Sy dissipels vertel het van die tekens waarna hulle net voor Sy wederkoms moet oplet. Die Bybel profesie wat Jesus vir hulle gegee het verskaf aan ons ‘n duidelike roetekaart sodat ons kan weet of Christus se koms naby is.

In die natuurlike wêreld sal daar ‘n toename in rampe en siektes wees.  “En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes” (Lukas 21:11). In die afgelope dekade het ons ‘n vinnige toename in die frekwensie van orkane, tornadoes, vloede en aardbewings gesien. Pestilensies, of aansteeklike epidemies, het ook toegeneem.

Die onlangse COVID-19 pandemie is ‘n voorbeeld van ‘n “pestilensie”. Jesus het gesê dat onrus en opstande die politieke arena sal kenmerk. “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander.” (Lukas 21:10).

Van die Eerste en Tweede wêreldoorlog af tot op die onlangse konflik en opstande sien ons voortdurende onrus in ons wêreld. Die onlangse rebellies in die VSA en in Hong Kong het ook al tot geweld gevorder. Hoe sal die maatskaplike verhoudinge lyk vvor die wederkoms van Jesus?

En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: In Noag se tyd was die klem op selfbevrediging. Mense was te besig om na die waansinnige Noag te luister wat oor ’n vloed praat.

Ook in ons tyd is ons te besig en ingestel op ons eie belange om na die waarheid te luister. Paulus sê in die laaste dae sal die mense liefhebbers van genot wees eerder as liefhebbers van God. (1 Timotheus 3:4). Die godsdienstige omgewing sal ook vir ons aandui dat Sy koms naby is. Mattheus 24:11 sê baie valse profete sal na vore kom en baie mense mislei. Ons het al gesien hoe word godsdienstige leiers beroemd en hoe hulle vrede en voorspoed belowe, net om die mense teleur te stel.

Valse profete sal leuens vertel om hulle agende te bevorder. Dit sal selfs die uitverkorenes op die proef stel (Mattheus 24:24). Die Bybel is die enigste standaard wat deur al die eeue konsekwent gebly het en dit is die standaard waaraan alle predikante en profete getoets moet word. Chaos en verwarring sal dramaties voor Jesus se wederkoms toeneem, maar daar is een teken wat Jesus vir ons deurgegee het wat hoop skep.

Mattheus 24:14 sê: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Die Here wil nie hê dat enigeen verlore gaan nie, maar dat almal gered sal word. (2 Petrus 3:9). Hy wil aan almal die geleentheid bied om die goeie nuus van die wederkoms te hoor en ‘n keuse maak om Hom te volg. Die Here sal alles doen om seker te maak dat alaml die boodskap gehoor het en ‘n keuse gekry het om Sy koninkryk te kies.

Sal jy ook jou keuse maak om Hom te volg? Sal jy Sy belofte van hoop en vrede aanvaar te midde van die chaos van die laaste dae? As daar enige iets is wat jou terughou – dan is dit nou die tyd om Hom te aanvaar en Sy liefde en beskerming te aanvaar.