Ons gaan maaltyd hou met die beste en wonderlikste mense van al die eeue. Dink daaroor!
God se geloofshelde waarvan ons gelees het, almal daar. Jy werk dalk in jou tuin en iemand stap verby – kan dit wees …. Adam is dit jy? “Ja, dis ek. Jy het mooi mielies in jou tuin.” Wil jy graag daarvan hê Adam? Adam kom nader en julle gesels en deel die vreugdes wat Jesus moontlik gemaak het. En dan eendag ontmoet jy vir Moses. Julle begin praat en jy vra hom hoe dit was om deur die see te trek. Hoe was dit in die woestyn vir 40 jaar? ‘n Ander dag is dit Daniël wat jou kom sien. Hy het verneem jy wil graag weet hoe dit was toe hy in die leeukuil gewerp is. Hy vertel jou van sy vertroue in God.
Die Hemel is ‘n plek van kameraadskap. Kameraadskap met die engele, die serafs en die gerubs! Dis ‘n plek waar jy saam met Petrus, Jakobus en Johannes en Paulus sal wees. Maar die beste is dat ons ook met Jesus kan kuier. Want eendag sal ek en jy vir Jesus van aangesig tot aangesig ontmoet. Jesus wat vir jou en my gesterf het, wat bereid was om aan die kruis genael te word vir jou en my, wat die doringkroon vir jou en my gedra het en Sy bloed vir jou en my gestort het. Eendag sal ons die stad ingaan en Jesus sal daar wees om ons te verwelkom. Jesus sal sê: “Dis nou jou land, dis jou tuiste.”
Jy sal nooit weer huil nie, nooit weer treurig wees nie, nooit weer hartseer wees nie. Eendag as jy by die tempel uitstap neem Jesus jou hand en sê, “Ek wil vandag saam met jou gaan stap.” Julle stap deur die wuivende koringlande en Jesus breek van die graan af – “Proe dit. Daar is geen ander soos dit nie. Dis spesiaal vir jou gemaak. Hou jy daarvan?” Julle loop oor die heuwels en Hy sê: “Kyk die blomme, is hulle nie pragtig nie? Daar is geen ander soos hulle nie. Kyk na die perse en rooi en blou en pienk. Ek het hierdie blomme net vir jou gemaak. Jy is kosbaar vir My. Ek sou die pyn en lyding en smaad en die donkerte van die kruis verduur het net vir jou.” En Hy plaas Sy hand op jou skouer en sê: “Weet jy wat? Ek het niemand soos jy nie! Nie een van die engele lyk soos jy nie, nie een van die miljoene verlostes is soos jy nie. Jy is kosbaar want as Ek jou verloor het was daar niemand om jou te vervang nie.”
Wil jy graag sê Jesus ek verlang om die ewigheid met U deur te bring. Vandag kan jy weer jouself toewy om te volg waar Hy ookal lei. As jy dit wil doen – ons is familie, ons is deel van God se gesin. Eendag sal ons in die hemel ontmoet. Kom ons maak ‘n afspraak. Wat van die tweede Sabbat, twee ure na die erediens – ek glo Jesus sal preek – dan ontmoet ek jou daar by die boom van die lewe. Ek sal aan die linkerkant wees. Sal dit nie wonderlik wees nie? Hoeveel van julle sal my daar ontmoet?