Listen

Description

In die laaste en langste lesing in hierdie reeks gaan ons oor Intelligente Ontwerp gesels. Waar het die eerste sel vandaan gekom? Hoe het lewe ontstaan? Ons gesels oor onverminderbare kompleksiteit en kyk na 'n paar voorbeelde daarvan, insluitend die fantastiese bomwerperkewer.

Dan kyk ons na homologie insluitend die sg pentadaktiele ledemaat asook Haeckel se bedrieglike diagramme. Hierdie vals diagramme is alreeds in 1874 deur evolusionistiese wetenskaplikes weerlê en weereens, redelik onlangs, onder die mikroskoop geplaas deur nog ’n evolusionis genaamd Michael Richardson. Hoekom kom dit vandag nog steeds in ons kinders se handboeke voor?

Ons sal sien hoe ooreenkomste in ontwerp absoluut geen bewys lewer vir evolusie nie. Dit faal in totaliteit wanneer ’n poging aangewend word om alle lewensvorme, insluitend fossiele, na 'n sg universele voorganger terug te gelei. Ooreenstemming in eienskappe van verskillende soorte dui op ekonomiese ontwerp - 'n algemene kenmerk van goeie vervaardigingspraktyk en 'n aanduiding van 'n gemeenskaplike Ontwerper - die Skepper-God.

Dan sal ons ’n nugter ondersoek doen aangaande die idee van spontane generasie wat eksperimenteel deur Francesco Redi en Louis Pasteur weerlê is. Lewe kom van lewe, volgens die Wet van Biogenese soos geformuleer deur Pasteur en Virchow en soos vasgestel deur die Jesus Christus, die Outeur van die lewe.

Konvergente evolusie as 'n verklaring vir die ontwikkeling van vlerke in insekte, voëls, vlermuise en reptiele vanuit 'n onbekende, nie-vlieënde organisme - waarvan daar absoluut geen bewyse in die fossielrekord bestaan nie - word weerlê. Ons kyk ook na mimiek en sg vestigiale organe, wat weereens geen bewyse lewer ter ondersteuning van evolusie nie.

Ons kyk na enkele voorbeelde van fantastiese ontwerp en hoe wetenskaplikes hierdie ontwerp-eienskappe kopieer. Waar daar ontwerp is, is daar altyd 'n ontwerper. Die kopiëring van die werk van Die Meester Ontwerper sonder om aan Hom die nodige krediet te gee, kom neer op plagiaat. Ons behoort ons Almagtige Meester-Ontwerper die nodige krediet te gee!

Ons sluit af met 'n opsomming van die bewyse teen evolusie en ’n paar kragtige aanhalings deur ateïstiese evolusioniste.