Dis maklik vir ‘n persoon in hul senior jare om te voel dat hulle waardeloos is, oorbodig, selfs onwelkom, ‘n oorlas vir die samelewing. Om te voel jy word eenkant toe gestoot, miskien verdra, maar nie waardeer nie. Maar dis moontlik om ‘n vol lewe te lei in jou silwer-grys jare. Johann Goethe skryf sy meesterlike toneelstuk op die ouderdom van 81. Winston Churchill, op 82, skryf die eerste van 4 dele oor die Britse geskiedenis. Toscanini, die bekende Italiaanse dirigent, lewer sy laaste uitvoering op 87. Michelangelo, op 88, omskep vir die laaste keer ‘n stuk marmer in ‘n pragtige beeldhouwerk. Rubenstein, befaamde pianis, lewer op 89 ‘n puik uitvoering. Picasso skilder steeds op 90. Stradivari, die legendariese vioolmaker, maak viole op 93. Die digter Robert Browning begin sy gedig Rabbi Ben Ezra met die volgende: Grow old with me The best is yet to be – The last of life, for which the first was made Our lives are in His hand Who saith, “A whole I planned;” Youth shows but half; trust God, See all, nor be afraid. Die Bybel bied aan ons ‘n positiewe siening van bejaardheid. Een van waardigheid vir wie jy is; iemand met waarde vir ander mense; iemand met waarde vir die koninkryk van God. Die psalmis verklaar in Psalm 92:15 NLV: Al is hulle oud, sal hulle steeds vrugte dra; hulle is vars en lewenskragtig. Die AFR1953-vertaling praat van “in die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra.” Jou ouderdom diskwalifiseer jou nie om steeds ‘n positiewe bydrae te lewer nie. Wat jy doen, mag dalk anders wees as wat jy gedoen het toe jy jonger, gesonder en sterker was. Wat jy nou doen is nie minder belangrik nie. Wees oud met waardigheid. Ek gesels graag in die video verder met jou hieroor.