Filippense 4:6-7 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
As jy eerlik met jouself wil wees, moet jy erken dat dit regtig baie natuurlik vir ons is om ons oor dinge te bekommer. Soveel van die belangrike dinge in die lewe is buite ons beheer; so wanneer daardie een "ding" wat 'n groot impak op ons lewens kan hê, onseker aan ‘n draadjie hang, bekommer ons onsself daaroor.
Ek wonder waaroor jy jou op die oomblik bekommer? Is dit 'n gesondheidsdiagnose; finansies; kinders of iets anders? Soms bekommer ons onsself onophoudelik oor die onbenulligste dingetjies.
En die probleem met bekommernis is dat dit selfonderhoudend is: Hoe meer jy jou bekommer ... hoe meer bekommer jy jou. Dit lei jou in ‘n tipe afwaartse spiraal en wanneer jy in daardie posisie is, kan jy tog nie werklik jou lewe geniet nie, nè? Maar wat sal gebeur indien ons ons bekommernisse in 'n heel ander lig beskou? Paulus skryf vanuit ‘n dodesel in:
Filippense 4:6-7 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
Wat sal gebeur wanneer ons elke bekommernis as 'n teken sou beskou dat ons daaroor moet bid? As ons dit elke keer wanneer ons onsself bekommer, as 'n gebedsgeleentheid sien – wag ‘n bietjie, stop en bid – dan ervaar ons hoe die belofte dat God se vrede oor al ons gedagtes en gevoelens sal waghou, ‘n werklikheid word. Dis tog soveel beter as enigiets wat ek of jy ooit kan optower.
En dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag.