Efesiërs 5:1-2 Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as 'n offergawe gegee het, ja, 'n offer wat vir God aanneemlik was.
Byt vas … die lewe is besig. Druk van duskant, probleme van daardie kant, en hier kom hulle en jy sit in die middel vas. Jy is moeg. Jy sit in ‘n doodloopstraat. Wat nou?
Vroeg in die 1800’s het die Amerikaanse handelskip, die Commerce, langs die kus van die Wes-Sahara gestrand. Die kaptein, James Riley, en sy bemanning is in strawwe woestyn- omstandighede gestrand gelaat, en was in ‘n desperate lewensgevaarlike situasie gevange gehou.
Riley was vasbeslote om sy pad na veiligheid te vind, maar dit was ‘n byna onbegonne taak. Die woestyntoestande was moordend. Hulle het niks gehad nie, hulle het honger gely en hulle is mishandel.
Dus, sonder enige hoop op oorlewing, het Riley die moeilike besluit geneem om tradisionele navigasie prys te gee. Hy het hom en sy bemanning aan die genade van ‘n plaaslike man oorgegee. Daardie besluit het hom en sy bemanning gered. Hulle het uiteindelik veilig tuisgekom.
Wanneer die lewe jou wil baasraak, wanneer jou vermoë om te navigeer, om te onderskei, en ook al jou plannetjies misluk; dan is dit tyd om iets anders te probeer.
Efesiërs 5:1-2 Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as 'n offergawe gegee het, ja, 'n offer wat vir God aanneemlik was.
Kyk na God. Kyk na Jesus wat vir jou gesterf het, wat vir jou opgestaan het. Jy is 'n geliefde kind van die Here, volg dan sy voorbeeld. Dit is die rigting waarin jy moet gaan. Dit is hoe jy ontsnap uit hierdie woestyn.
Vertrou Hom, rig jou oë op Hom en leef 'n lewe van liefde. Want Jesus is die weg, die waarheid en die lewe!
Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag.