Romeine 2:5b-8 ....daardie dag wanneer God, die regverdige regter, almal sal oordeel volgens wat hulle gedoen het. Aan dié wat met volharding aanhou om goed te doen, en op hierdie manier streef na die toekomstige heerlikheid, eer en onsterflikheid wat Hy vir hulle weggebêre het, sal Hy die ewige lewe gee. Maar dié wat hardkoppig weier om die waarheid te gehoorsaam en toegee aan die ongeregtigheid, sal Hy in sy woede straf. (NLV)
As ons mooi daaraan dink, besef ons dat liefdevolle gesinne die grondslag van menswees in die gemeenskap vorm. Sonder gesinne sal die samelewing ineenstort ... en dit verklaar heel moontlik die gemors waarin die wêreld vandag is.
Natuurlik is nie elke kind geseën om groot te word in ‘n huisgesin waar hy omring word deur 'n liefdevolle, alhoewel onvolmaakte, moeder en vader nie. Gelukkig het ek in so ‘n huis grootgeword en is die opvoeding wat ek gehad het, iets wat ek vir ewig sal koester.
Maar weet jy, daardie opvoeding het 'n bietjie ‘liefde met gevoel’ oftewel tough love behels! Dit het dissipline behels. Dit het selfs van tyd tot tyd die kweperlat behels – nie dat dit iets is wat ek vandag sal voorstaan nie. Tog was my ouers vasbeslote om my te leer dat dade gevolge het.
Ons liefdevolle God wil ook vir ons dissiplineer en gehoorsaamheid leer; want indien ons dit nie leer nie, sal dit ewige gevolge hê:
Romeine 2: 5b-8 ....daardie dag wanneer God, die regverdige regter, almal sal oordeel volgens wat hulle gedoen het. Aan dié wat met volharding aanhou om goed te doen, en op hierdie manier streef na die toekomstige heerlikheid, eer en onsterflikheid wat Hy vir hulle weggebêre het, sal Hy die ewige lewe gee. Maar dié wat hardkoppig weier om die waarheid te gehoorsaam en toegee aan die ongeregtigheid, sal Hy in sy woede straf. (NLV)
Sjoe, is dit werklik in die Bybel? Ja, dit is! Wat het geword van ‘n God van barmhartigheid en genade? Wel, Hy is steeds die God van barmhartigheid en genade, maar ons aanvaar of verwerp daardie barmhartigheid en genade, deur hoe ons leef. Aan diegene wat in gehoorsaamheid reageer, sal Hy die ewige lewe gee. Vir diegene wat in ongehoorsaamheid reageer, sal Hy met toorn en woede straf.
Ja, my vriend, dade het inderdaad gevolge.
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.