Romeine 12:10 As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer. (NLV)
In 1905 het Albert Einstein sy relatiwiteitsteorie gepubliseer. Hy en baie ander wetenskaplikes het gedink dat die heelal uit net een sterrestelsel bestaan. Vandag praat geleerdes van 'n ongelooflike heelal wat uit, omtrent twee triljoen sterrestelsels, elk met 'n gemiddeld van honderd miljard sterre en tweehonderd miljard planete, bestaan.
Die interessante ding is dat die kosmos besig is om verder en verder uit te beweeg – al verder én vinniger weg van ons. Dit is nie staties nie. Dit verg onbeskryflike groot krag, nè? Maar weet jy wat is die sterkste krag van almal? Die antwoord is sonder enige twyfel ... die liefde.
God is liefde. Liefde is nie ‘n emosie of ‘n gevoel wat beskryf of verduidelik moet word nie. Liefde bind ons bymekaar.
Daardie beeld van 'n vinnig groeiende kosmos wat steeds wegbeweeg, herinner ons aan die manier waarop lande, gemeenskappe, selfs gesinne, al hoe meer verdeeld word deur ideologieë, deur politiek, deur selfsug en deur trots.
Daar is egter een krag wat ons weer nader aan mekaar bring: die liefde van ons Here Jesus Christus wat Hy vir ons medemens in ons harte uitstort.
Die Bybel beskryf gelowiges as 'n organiese gemeenskap wat mekaar se vreugde en smarte deel; mekaar ondersteun en daadwerklik help. ‘n Gelowige sien verhoudings as iets waarop hy nie sy rug kan draai nie, maar as 'n verhouding wat hom tot verantwoordelikheid oproep.
Romeine 12:10 As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer. (NLV)
In hierdie onpersoonlike wêreld moet ons, as ware Christene, vir mekaar lief wees op 'n manier wat ons so ná soos broers en susters aan mekaar laat voel.
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.