Jesaja 43:19 Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom, Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.
Noudat Kersfees verby is, begin die werklikheid, dat nog 'n jaar so te sê verbygesluip het, ons oorweldig. Nog 'n jaar, kan dit wees? Dit is eintlik net datums op 'n kalender, maar dit laat ‘n mens allerhande gedagtes kry, nie waar nie?
Soms bring die nuwe jaar verandering mee, ander kere lyk dit asof dit net op die gewone spoor sal voortstoom. Soms sien ons uit na verandering, ander kere verafsku ons die idee.
En al het ons ook in die verlede gedink dat niks gaan verander nie, hét daar toe groot omwentelings plaasgevind. Dit is dus so effens riskant en 'n bietjie verwarrend om oor die jaar wat voorlê te besin, want ons was in die verlede al so verkeerd...
Teen die einde van die sewentig jaar van ballingskap in Babilon was die Israeliete in 'n verskriklike groef; hulle was ‘n hele geslag van slawe, wat niks anders geken het nie. Hulle het maar net van dag tot dag, sonder om vir hulself te dink, soos skape voortgeploeter – hulle was eintlik op die ou end heel gemaklik! Toe kom sê God vir hulle deur Jesaja sy profeet:
Jesaja 43:19 Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom, Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.
'n Nuwe ding? Watter nuwe ding? Dit kan gevaarlik wees. Wat beteken dit vir my? Dit was die onwillekeurige reaksie van die Israeliete. Verandering, selfs verbetering, kan skrikwekkend, ontstellend en ontwrigtend wees.
Kyk, ek en jy het geen idee wat hierdie volgende jaar sal oplewer nie. Maar soos hier, waar God sy volk na die Beloofde Land teruggebring het; bring God dikwels wonderwerke deur seisoene van omwentelinge – nie ten spyte daarvan nie.
Verandering mag jou dalk benoud laat voel; ja, ons weet, jy voel asof jy nie kan asem kry nie; maar dit kan dikwels presies die plek wees waar God ‘n wonderlike nuwe begin vir jou beplan.
Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag.