Kolossense 3:13-14 Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.
In sommige kulture is "uitgebreide gesinne" steeds 'n baie belangrike ding. En as jy deel is van 'n uitgebreide gesin, al is dit nie perfek nie, en al is daar van tyd tot tyd meningsverskille, hoop ek jy besef hoe ongelooflik geseënd jy is.
Vir baie mense het uitgebreide gesinne egter iets van die verlede geword. Verstedeliking en globalisering het 'n situasie geskep wat daartoe gelei het dat familielede fisies verder van mekaar af woon. Daar is gevolglik ook 'n toenemende druk op die kerngesin, ten opsigte van finansiële onafhanklikheid, te midde van die ewig stygende lewenskoste.
Veranderende geslagsrolle, generasieverskille, die opkoms van alternatiewe vir kinderversorging en digitale kommunikasie het almal ‘n rol gespeel in die verbrokkeling van uitgebreide gesinne. Hoe gebeur dit? Verskille verander in meningsverskille; meningsverskille verander in gebroke verhoudings en voor jy dit weet, praat ons van vervreemding.
Ek is geen huweliks- en gesinskenner nie, maar ek is baie seker dat daar ook ‘n Goddelike oplossing daarvoor is:
Kolossense 3:13-14 Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.
God se bloudruk het nog altyd gesinne ingesluit. En terwyl jy ook baie gebroke en ongelukkige gesinne; wat wissel van argumente, egbreuk, bloedskande en moord, in die Bybel sal vind, is dit God se begeerte dat gesinne verenig moet wees. Dit begin met liefde; dit manifesteer in vergifnis. Wat ook al in jou uitgebreide gesin aangaan, is dít waartoe God jou vandag roep.
Liefde is die grondslag. Dit hou almal in perfekte harmonie bymekaar.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.