1 Petrus 1:5-6 En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings
Mag ek jou vandag vra, wat hou jou dag na dag aan die gang; ja, ek praat van die sonnige dae, die bewolkte dae, die stormagtige dae ... die dae wat jy regtig sou wou oorslaan as jy kon? Wat laat jou uitsien na die toekoms?
Marie Durand was 'n 16de-eeuse Franse Hugenoot wat 38 jaar lank in die Toring van Konstanz gevange gehou is omdat sy geweier het om Christus te verloën. Sy is op 19-jarige ouderdom gearresteer en sy het ontsaglike marteling verduur. Sy het deur die ellende van honger, siekte en wanhoop aan haar geloof en die sekere wete dat haar Heiland leef, vasgeklou.
Op die tronkmuur het sy die woord "Weerstaan" gekerf en ander gevangenes aangemoedig om standvastig te bly en die versoeking om toe te gee aan die vyand se eise, te weerstaan. Baie van hulle het egter oor die jare hul geloof versaak, maar Marie het standvastig gebly; sy het gebedsgeleenthede in die tronk gelei, haar mede gevangenes vertroos en aan God se beloftes herinner. Haar geloof het 'n baken en ‘n voorbeeld van geloof en deursettingsvermoë geword.
Sy is uiteindelik op 57-jarige ouderdom vrygelaat. Dit was egter nie die einde van haar lyding nie. Toe sy uit die gevangenis uit gekom het, was sy stoksielalleen en sonder heenkome. Sy het haar huis verloor. Haar pa én haar broer, wat ook gemartel was, was ook reeds dood. Maar weet jy, haar hart was ten alle tye vry; haar hoop was in die ewige heerlikheid, nie in aardse gemak, gevestig nie. Aan vervolgde Christene van die 1ste eeu n.C. het die apostel Petrus die volgende geskryf:
1 Petrus 3:5-6 En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings.
Jou geloof in God se krag is daar om jou te beskerm en om jou veilig te hou, totdat jy eendag sterf; want jou verlossing en ewige heerlikheid is gewaarborg. Weerstaan die wêreld in geloof terwyl die wêreld jou meedoënloos aftakel .... Hy sal jou tot die einde toe beskerm.
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.