Filippense 2:1-2 Julle is mos deur Christus bemoedig en deur sy liefde getroos! Julle het die gemeenskap beleef wat die Gees bewerk! Julle weet wat omgee en meelewing beteken! Maak my dan nou heeltemal bly deur eensgesind te wees – één in liefde, één in hart en één in doel. (NLV)
Ek weet nie hoe oud jy is nie, maar ek is al 24 246 dae op ons dierbare planeet Aarde – dis net minder as 66 ½ jaar lank. En gedurende daardie tyd het die band wat ons as mense saambind, dramaties agteruit gegaan. Groot, oënskynlik onoorbrugbare klowe het oopgegaan. Hoekom het dit gebeur?
Ek het daardie vraag aan ‘n Kunsmatige Intelligensie-sagteware-platform gevra. Hier is die antwoord: "Die toename van verdeeldheid in die samelewing in die moderne tyd kan toegeskryf word aan 'n komplekse wisselwerking van faktore." Jy kan dit weer sê!
Die digitale en sosiale media voer ons nie net met onakkurate inligting nie, maar ook met vals inligting wat daarop fokus om ons met opset te mislei en ons bestaande waardes só deurmekaar te maak, dat ons nie weet of ons kom of gaan nie. So kan ons elkeen in ons eie loopgraaf beland.
Die isolasie wat die ‘aanlyn’-lewe’ veroorsaak, maak ons meer vyandig en aggressief, en dit vererger die gapings tussen mense. Elke Jan Rap en sy maat het sy eie filosofie; die een of ander eiertjie te lê om jou van sy standpunt te oortuig.
Maar weet jy, dit is ontstellend om dit ook onder Christene te sien gebeur, en daarom is dit so belangrik om te dink aan hierdie verse in:
Filippense 2:1-2 Julle is mos deur Christus bemoedig en deur sy liefde getroos! Julle het die gemeenskap beleef wat die Gees bewerk! Julle weet wat omgee en meelewing beteken! Maak my dan nou heeltemal bly deur eensgesind te wees – één in liefde, één in hart en één in doel. (NLV)
Toemaar, wees getroos: ons hét 'n keuse. Ons kan verdeeldheid aanblaas deur te koop te loop met ons eie perspektiewe; of ons kan liefde, gevul met die vreugde van die Heilige Gees, uitleef met respek en simpatie en so onenigheid met eensgesindheid vervang.
Maak my dan nou heeltemal bly deur eensgesind te wees – één in liefde, één in hart en één in doel.
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.