1 Petrus 1:3-4 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.
Terwyl ons dag vir dag voortploeter, dink ek dis alte maklik vir ons om die lewe as vanselfsprekend te aanvaar. Of dit nou goed gaan, of sleg gaan; ons leef, ons haal asem en doen al die dinge wat ons moet doen. Totdat … ons nie meer daar is nie.
Elke oggend as ek wakker word, dank ek God vir my nagrus, die asem in my longe en vir die nuwe dag... wat dit ook al mag inhou. Dis my manier om nederig te wees en te keer dat ek die gawe van die lewe as vanselfsprekend aanvaar.
Dis daardie gedagte, daardie besef van die kosbaarheid van die lewe, wat my hierdie woorde uit die apostel Petrus se brief aan 'n klomp vervolgde 1ste-eeuse Christene in 'n heel nuwe lig laat sien het:
1 Petrus 1:3-4 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.
Petrus het gesien hoe Jesus aan die kruis vasgespyker is. Hy het gesien hoe Jesus daar gehang het, hoe Hy dood is, hoe hulle Hom met ‘n swaard deurboor het én hoe Hy uit die dood opgestaan het. Dit is die patroon van die nuwe lewe wat vir enigiemand, wat sy vertroue in Jesus stel, beskikbaar is.
Maar dit is nie al nie. Stel jou net die ongelooflike vreugde van daardie Opstandingsoggend voor, toe sy dissipels ontdek het dat Jesus lewendig was. Ja my vriend, jy kan deel in daardie ongelooflike vreugde; daardie "lewende hoop" waarvan Petrus praat. 'n Hoop wat lewendig is omdat Jesus lewendig is.
Daardie kosbare nuwe lewe, daardie lewende hoop is vir jou beskikbaar in Christus en in Christus alleen.
Dit is God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.