1 Petrus 1:17-19 En onthou dat die Vader tot wie julle bid, niemand voortrek wanneer Hy beoordeel nie. Hy beoordeel elke mens volgens sy dade. Daarom moet julle julle eerbied vir Hom wys met julle leefstyl, al is julle uitlanders. Julle weet mos dat God betaal het om julle los te koop van die sinlose leefstyl wat julle van julle voorouers oorgeërf het. En dié losprys was nie dinge wat vergaan, soos goud of silwer nie. Inteendeel, dit was die kosbare bloed van Christus, soos dié van ’n lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. (NLV)
Vir baie mense is vrees 'n konstante metgesel. Nou dink jy dalk: "Ek is vir niks bang nie." Dit klink baie dapper. Die vraag is, wat lê om die draai?
Ons sien vrees, oor die algemeen, as 'n slegte ding ... en dit is dikwels. Maar vandag wil ek graag oor ‘n ‘goeie vrees’ met jou gesels. Ons leer hoe God talle kere vir Israel tydens hul ballingskap uit hul verknorsing gered het. Maar weet jy, dit maak nie saak wat ons vandag mag konfronteer nie, God wil ons ook red. Hy wil ons van daardie slegte vrese vrymaak tot 'n ‘goeie vrees’ of anders gestel, ‘n heilige ontsag vir Hom.
1 Petrus 1:17-19 En onthou dat die Vader tot wie julle bid, niemand voortrek wanneer Hy beoordeel nie. Hy beoordeel elke mens volgens sy dade. Daarom moet julle julle eerbied vir Hom wys met julle leefstyl, al is julle uitlanders. Julle weet mos dat God betaal het om julle los te koop van die sinlose leefstyl wat julle van julle voorouers oorgeërf het. En dié losprys was nie dinge wat vergaan, soos goud of silwer nie. Inteendeel, dit was die kosbare bloed van Christus, soos dié van ’n lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. (NLV)
Die slegte dinge wat ons doen; die verkeerde dinge wat ons doen, is baie dikwels die oorsaak van die knaende vrese wat ons van binne-af opvreet. Kan ek dit openlik en kras stel? Sonde maak die deur vir vrees oop.
Maar God het ons daarvan gered deur Jesus te stuur om aan 'n kruis te sterf, sodat ons vergewe kan word. Hy het die losprys betaal, Hy het ons vrygemaak.
En nou verwag Hy dat ons Hom sal vrees, Hom sal respekteer, Hom sal eer. Dis 'n goeie vrees, want hierdeur ontdek jy 'n vrede en 'n vreugde wat jy nooit gedink het moontlik is nie. Vandag is die dag om God te vrees.
Dis Sy Woord. Vars ... vir jou ... vandag.