1 Petrus 3:8 ’n Laaste woord oor julle verhoudings: Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig. (NLV)
Daar word beraam dat daar deur die eeue 'n miljard mense in oorloë gesterf het. Een miljard! Die 20ste eeu met sy twee wêreldoorloë en die massavernietigingswapens het natuurlik ‘n groot aandeel aan daardie sterftes gehad! En daar is steeds sowat 135 staats- en nie-staat gebaseerde "gewapende konflikte" wat tans woed. Wat is fout met ons?
So, kom ons kyk 'n bietjie in diepte na die saak. Hoe lyk die vlak van konflik in jou lewe? Dink ‘n bietjie aan die mense met wie jy getwis het; of diegene van wie jy geïsoleer is; of diegene vir wie jy kwaad is; of diegene wat jou wil benadeel en skade aandoen.
Die meeste mense ervaar 'n mate van persoonlike konflik in hulle lewens, en dit vreet aan jou siel. Nou dink jy dalk: Wel, nee, nie ek nie! Eintlik is daar niemand teenoor wie ek ‘n verkeerde gesindheid het nie.
Maar wat van daardie persoon by die werk wat jou intens irriteer, of daardie buurman wat voortdurend harde musiek speel? En wanneer jy hand in eie boesem steek, besef jy dat jou gedrag nie altyd onberispelik is nie, en dan praat ons nie eers oor die ongesonde gedagtes wat in die stilte in jou kop uitbroei nie.
Konflik is 'n verskriklike ding en dit kan nie altyd vermy word nie. Maar daar is iets wat ons kan doen; ons kan die manier waarop ons dit in ons harte en gedagtes hanteer, verander:
1 Petrus 3:8 ’n Laaste woord oor julle verhoudings: Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig. (NLV)
Die apostel Petrus het dit geskryf aan 'n groep Christene wat in die 1ste eeu n.C. verskriklike vervolging ervaar het.
Wanneer ons dit van toepassing op onsself maak, is dit mos baie duidelik wat God vandag deur Petrus hier vir ons sê: ons kan 'n gesindheid van vrede in 'n situasie van konflik inbring. Ons kan probeer verstaan wat die ander persoon voel en hom liefhê. Ons kan ten spyte van ons omstandighede vriendelik en nederig wees. Ons kan kies ... so komaan, kies!
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.