Efesiërs 4:29 Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.
Dit spreek vanself dat ons vriendelik teenoor mekaar moet wees. Dis absoluut voor die hand liggend, nè? Maar hoe kry jy dit reg? Hoe bly jy koelkop sonder om te sê wat jy dink wanneer iemand jou irriteer? En hoe kry jy dit reg om nie deur 'n terloopse, onnadenkende gesigsuitdrukking jou afkeur teenoor iemand te toon nie? Sê my?
Dis nie maklik nie, nè? Miskien is jy 'n meer verdraagsame mens as ek, maar ek is seker party mense irriteer jou ook soms, en dan is die versoeking groot om hulle, in die hitte van die stryd, kaalkop die waarheid te vertel. En kom ons wees eerlik, dit eindig nooit goed nie.
Ja, my vriend, kyk wat sê Paulus in:
Efesiërs 4:29 Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.
Goed, soos ek gesê het, dit is voor die hand liggend, maar hoe leef jy dit uit?
Weet jy, daardie persoon wat jou mal maak; die een wat jou irriteer; die een wat jou te na kom, hulle het ook maar hul eie demone om te hanteer. Hulle het hul eie ongeneesde wonde uit die verlede, hulle eie stres en konflik in die lewe – net soos jy!
Dis 'n snaakse ding, maar wanneer ons werklik probeer om hulle te verstaan; om te kyk waar hulle vandaan kom en hoekom hulle so optree, word dit baie makliker om niks slegs te sê nie. So kan jy die korrekte, opbouende woorde gebruik om hulle te bevoordeel en om hulle te help groei. Met ander woorde, probeer eers om hulle te verstaan en dan om verstaan te word.
Dan sal dít wat jy sê, 'n seën wees vir diegene wat jou hoor.
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.