1 Samuel 17:47 Die hele wêreld sal weet dat Israel ’n God het. Almal sal weet dat die Here nie swaard en spies nodig het om sy mense te red nie. Die oorlog is die Here s’n, en Hy sal julle in ons mag oorgee!” (NLV)
Elke nou en dan word ons gekonfronteer deur oorweldigende situasies. 'n Huwelik wat op die rotse loop; 'n gesondheidsprognose wat ons tot in ons wese ontstel; 'n kontantkrisis; 'n verband wat opgeroep word; 'n kind wat rebelleer; die dood van 'n geliefde. Wat doen jy onder sulke omstandighede? Hoe reageer jy? Hoe kom jy daardeur sonder om heeltemal tot niet te gaan?
Dit is belangrike vrae, want ons almal moet een of ander tyd sulke gebeure hanteer. Ek het krisisse beleef; jy het joune beleef en daar is waarskynlik nog meer wat vir ons almal voorlê.
Die meeste van ons ken die storie van Dawid en Goliat. Israel se leër is deur die Filistyne omsingel en het 'n gewisse nederlaag in die gesig gestaar. Om sake te vererger, het die Filistyne vir Goliat, 'n reus van 'n man, wat gelyk het asof hy in staat is om enigiemand dood te maak, aan hulle kant gehad.
En daar kom 'n jong, naïewe, onervare Dawid – lank voordat hy koning geword het – gereed om Goliat uit te daag. Is hy onnosel of is hy ernstig? Maar dít is wat Dawid vir die reus gesê het toe hy hom gekonfronteer het:
1 Samuel 17:47 Die hele wêreld sal weet dat Israel ’n God het. Almal sal weet dat die Here nie swaard en spies nodig het om sy mense te red nie. Die oorlog is die Here s’n, en Hy sal julle in ons mag oorgee!” (NLV)
Jy weet ongetwyfeld hoe dit eindig. Met 'n enkele ou klippie in sy slingervel gaan Dawid voort om Goliat te verslaan.
Reuse sal oor jou pad kom. Jou kanse op oorwinning sal onmoontlik lyk. Maar in plaas daarvan om in desperaatheid jou oë op jou omstandighede te hou, kan jy kies om God na jou omstandighede te laat kyk. Vertrou Hom. Vertrou op Hom met jou hele hart.
Want … Die oorlog is die Here s’n.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.