Filippense 4:11-13 Ek sê dit nie omdat ek iets kortkom nie. Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom. Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort. Ek kan alles doen deur Hom wat my krag gee.
Tevredenheid is iets wat ons almal wil hê, maar dit is dikwels ontwykend. Is jy op die oomblik tevrede, of is jy soos 'n verslaafde wat voortdurend op soek is na die volgende nuwe idee wat jy kan najaag?
Jesuïete-sendelinge het ‘n Japannese jongman met die naam Kaji by die Here Jesus uitgebring. Dit was in 'n tyd toe Christene in Japan wreed vervolg is. Kaji se bekering het hom sy status, sy landerye en uiteindelik ook sy vryheid gekos. Hy is gevange geneem en gemartel, maar hy het standvastig gebly en geweier om van sy geloof afstand te doen deur die Here Jesus te verloën.
In die tronk het hy sy kos met ander gedeel. Hy het ander gevangenes gehelp; hulle aangemoedig en selfs saggies lofliedere gesing. Alhoewel hy deur dood en wanhoop omring was, het hy vrede in Christus gevind, omdat hy geweet het dat sy hoop nie van omstandighede afhang nie, maar dat hy ‘n ewige hoop in die Here Jesus het.
Kyk hoe het die apostel Paulus wat self tydens die 1ste eeu n.C. in die tronk was, getuig oor die berusting wat hy ten alle tye beleef het:
Filippense 4:11-13 Ek sê dit nie omdat ek iets kortkom nie. Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom. Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort. Ek kan alles doen deur Hom wat my krag gee. (NLV)
Jy sal nie die geheim van tevredenheid ontdek deur die perfekte lewe na te jaag nie, maar deur te kies om die Here te vertrou en jou in Hom te verlustig, dit maak nie saak waar jy is nie. Tevredenheid is nie 'n bestemming nie; dis 'n keuse.
Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag.