Jesaja 12:3-4 Met blydskap sal julle water skep uit die fonteine van redding. Op dié dag sal julle uitroep: “Loof die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend en verkondig dat sy Naam groot is.
Die lewe maak baie snaakse draaie, nè? Die een oomblik kan jy in die dieptes van wanhoop wees. Die volgende oomblik kan jy met 'n onuitspreeklike vreugde gevul wees. En dit is so 'n keerpunt waarna ons vandag saam gaan kyk.
George Müller was 'n dief, leuenaar en dronkaard. Hy was reeds op ‘n vroeë ouderdom al in die tronk. Maar in 1825, toe hy absoluut mismoedig en desperaat was, het hy teësinnig 'n Bybelstudie bygewoon. Daardie aand het iets binne-in hom gebreek. Hy het later geskryf: Ek was in groot nood. Maar toe ek sien dat Christus vir my sondes gesterf het, het vreugde my siel gevul soos nog nooit tevore nie.
Die een oomblik was hy absoluut wanhopig. Die volgende was hy onuitspreeklik gelukkig. Müller het bekend geword as een van die geskiedenis se grootste manne van geloof. Hy het weeskinders versorg. Hy het, sonder om ooit vir geld te vra, op dié God wat hom uit die put gelig het, vertrou, en hy het in sy leeftyd vir meer as 10 000 wesies gesorg.
Hier is God se belofte aan Israel, toe hulle op die punt gestaan het om 'n tyd van groot lyding in te gaan:
Jesaja 12:3-4 Met blydskap sal julle water skep uit die fonteine van redding. Op dié dag sal julle uitroep: “Loof die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend en verkondig dat sy Naam groot is.
En dit is die belofte vir enigiemand wat, soos George Müller, hul lewe aan Jesus oorgee. Met groot vreugde sal jy vir ewig lewende water uit die dieptes van jou verhouding met Hom skep. En dan sal jy spontaan, in aanbidding met Hom praat. Jy sal ‘n dringende begeerte hê om met opregte vreugde en oortuiging, vir ander van sy groot liefde vir hulle te vertel.
Van beproewing tot getuienis; van aanbidding tot sending.
Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag.