Johannes 14:15-17 As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.
Vrees is 'n magtige dryfveer. Dit hou jou op die pad, laat jou luister, en dryf jou selfs om te presteer. Maar dit verander nooit jou hart nie. Want terwyl vrees jou dalk kan dwing om dinge te doen, is dit net liefde wat ware toewyding bring.
Het jy al ooit êrens gewerk waar die baas 'n tiran is? ‘n Plek waar dinge deeglik gedoen word, maar waar daar geen vreugde, geen lojaliteit en geen lewe is nie. Vergelyk dit nou met 'n gesonde werksplek, waar mense sommer baie meer van hulself gee by die werk omdat hulle gewaardeer en gerespekteer voel. Dit gee presies dieselfde resultaat, maar met 'n heeltemal ander gees.
Dit is die groot verskil tussen godsdiens en 'n verhouding met ons Here Jesus Christus. Godsdiens sê: Doen dít, of anders... Jesus sê: Volg My – want Ek het jou lief. Hy het trouens self vir sy dissipels gesê:
Johannes 14:15-17 As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. Ek sal die Vader vra, en Hy sal 'n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.
Dit was glad nie 'n dreigement nie; dit was bloot feite. Vrees gehoorsaam dalk, maar liefde volg.
Jesus se gehoorsaamheid aan sy Vader is nie gedryf deur die vrees dat Hy weggestoot sal word nie, maar deur 'n oorvloedige liefde wat uit 'n baie hegte verhouding kom. Selfs aan die kruis het die liefde Hom gedring om aan te hou “ja” sê.
So, vra jouself vandag af – hoekom gehoorsaam jy God? Uit vrees dat Hy jou sal straf, of uit liefde omdat Hy jou reeds vergewe het? Want terwyl vrees jou dalk vir 'n rukkie kan laat luister, is dit net liefde wat jou vir die res van jou lewe aan die gang kan hou.
En onthou: Wanneer jou gehoorsaamheid uit liefde vloei, is dit nie meer 'n plig nie. Dit word 'n plesier.
Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag.