1 Korintiërs 4:20 Die koninkryk van God is immers nie 'n saak van praatjies nie, maar van krag.
Oral waar jy kyk, praat mense. Op Facebook, op die nuus, op poduitsendings... dis ’n nimmereindigende stroom van opinies. Maar daar is ’n verskil tussen praat en doen. Om mooi dinge oor geloof te sê, is maklik. Maar om dit elke dag in die krag van God uit te leef? Dís wat tel.
In die 18de eeu was John Wesley reeds ’n geordende predikant. Hy was welsprekend, gedissiplineerd en mense het hom opreg bewonder. Maar diep binne-in homself, het hy geweet daar ontbreek iets. Hy was geestelik heeltemal uitgebrand en vol twyfel.
Dit het alles een aand in Aldersgatestraat in Londen verander. Terwyl hy na ’n voorlesing uit Romeine geluister het, het hy ’n ware, lewende ontmoeting met God self gehad. Wesley het gesê sy hart het skielik "vreemd warm" geword. Hy het besef dat verlossing ’n gratis geskenk van genade is, en nie iets wat deur godsdiens verdien kan word nie. Aldersgatestraat het die simbool geword vir die verskuiwing van kop-kennis na hart-kennis, en dit het die groot Metodiste-herlewing begin wat miljoene lewens wêreldwyd verander het.
En weet jy, dit is presies waaroor die apostel Paulus gepraat het toe hy aan die gelowiges in Korinte geskryf het. Daardie kerk was baie trots op hulle leraars, hulle slim argumente en hulle mooi woorde. Maar intussen was hulle verdeeld, geestelik swak en losbandig.
1 Korintiërs 4: 20: Die koninkryk van God is immers nie 'n saak van praatjies nie, maar van krag.
Die koninkryk van God gaan nie oor indrukwekkende woorde of ’n deftige voorkoms nie. Dit gaan oor die onmiskenbare krag van die Heilige Gees. Dit gaan oor die krag wat harte verander, wat verhoudings genees, wat die greep van sonde breek en wat lewe bring waar daar absoluut niks was nie.
Vra jouself dus vandag af: is my geloof net mooi praatjies, of het God se krag my werklik verander?
Want kyk, wanneer die Gees van Christus in jou woon, dan práát jy nie net van die evangelie nie – jy wýs dit. En dit is die soort krag wat hierdie wêreld eenvoudig nie kan ignoreer nie. Trouens, dit is presies die soort krag wat die wêreld nou nodig het.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.