Matteus 4:18-20 Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om 'n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep. Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg.
Het jy al ooit ‘n doelwit probeer bereik – iets wat jy regtig graag wou bereik – maar toe dinge moeilik raak, toe jy teenstand ervaar het; toe jy moeg geword het vir die gesukkel … het jy moed verloor? Wel, jy is nie die enigste een nie.
In 1405 het die Chinese keiser, Yongle van die Ming-dinastie, vir ‘n sekere Admiraal Zheng opdrag gegee om 'n reeks ontdekkingsreise te lei om die Chinese handel uit te brei. Maar na keiser Yongle se dood het die nuwe leier skepties en halfhartig oor skeepvaart gevoel en die befondsing en hulpbronne vir reise verminder. En as 'n direkte gevolg van sy louwarm houding, het China die geleentheid om wêreldwye maritieme handel vir eeue te oorheers, misgeloop.
Dit het al talle kere op 'n geopolitieke skaal gebeur. Ons kan self stories vertel van wat met mense wat ons ken, wat tou opgegooi het, gebeur het. Daardie gebrek aan toewyding lei elke keer tot mislukking.
Matteus 4:18-20 Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om 'n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep. Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg.
Hulle het alles laat vaar, hulle rug gedraai op die besigheid wat hulle vader opgebou het en wat hulle eendag sou erf. Ja, hulle het vir Jesus gevolg op 'n onsekere, ongemaklike pad, wat op die ou end hul lewens gekos het. Dit het alles begin met die roepstem van Jesus. Hulle het geantwoord. Hulle het tot die einde volhard.
‘n Mens kan nie ligtelik besluit om Hom te volg nie; Jesus roep jou nie tot 'n gemaklike, afgewaterde geloof nie, maar tot 'n lewenslange verbintenis deur dik en dun.
Simon en Andreas het dadelik hulle nette gelos en Hom gevolg.
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.