Romeine12:11 Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here. (NLV)
Dis so lekker wanneer jy jou unieke gawes en vermoëns tot voordeel van ander kan gebruik, nè? Jy geniet dit wanneer jy besig is om iets te doen wat so reg in jou kraal is. Dit gee jou sommer nuwe energie en ywer om nog meer te doen.
Maar wees versigtig: ywer kan 'n tweesnydende swaard wees. Wanneer jou ywer op die verkeerde ding gefokus is, word dit verskriklik vernietigend. Maar dis fantasties wanneer dit op die regte ding gefokus is en jy iets doen wat by jou vermoëns pas en ‘n positiewe bydrae tot hierdie wêreld lewer.
Jy het dalk nog nooit hieraan gedink nie, maar ek skryf elke jaar 365 van hierdie daaglikse VARS-boodskappe. Dis ongeveer 140 000 woorde, meer as 'n PhD-tesis. Ek skryf hierdie boodskappe al vir tien jaar lank – en vandag s'n is die 3 255ste boodskap. Elkeen word in 'n radio-ateljee opgeneem. Elkeen word in 'n TV-ateljee verfilm. Mense vra my dikwels hoe doen jy dit? Hoe kom jy met die idees vorendag? Hoe hou jy dit, dag na dag na dag, jaar na jaar vol?
Ek sal jou vertel hoe. Ek doen slegs dít waarvoor God my geskep het. Wanneer ek soggens voor my rekenaar gaan sit om die volgende boodskap te skryf, is ek opgewonde. Ek is absoluut mal daaroor. En dis hoe werk veronderstel is om te voel.
Romeine 12:11 Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here. (NLV)
Die oorspronklike Griekse woord wat hier as "entoesiasties" vertaal word, skilder die prentjie van kookwater. Wees warm, passievol, wees borrelend, gee stoom af. En my vriend, dis wat gebeur wanneer jy gehoorsaam is aan die God wat jou gemaak het om dít te doen, waarvoor Hy jou geskape het.
Wees opgewonde om Hom te dien!
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.